VEELGESTELDE VRAE
V: Wat hier aangebied word klink veel na 'n droom!
A: Almal droom drome. Oor die Nuwe Wêreld was eers gedroom voordat hy ontdek was. Daar is eers oor die Groot Trek gedroom voordat hy werklikheid geword het. Daar is eers oor die Afrikaanse kultuurtaal gedroom voor hy ingevoer was.
V: As ons die bande met Nederlands gaan aanhaal, moet ons ook anders gaan praat en dit is onhaalbaar.
A: Wanneer ons die bande met Nederlands wil heraanhaal, het ons dit oor die kultuurtaal en nie die omgangstaal nie. Die Afrikaanse omgangstaal (en ook Kaapse Afrikaans) kan presies bly wat dit is. Die bystelling van maar enkele persentasiepunte word gedoen aan die kultuurtaal, in die rigting van Nederlands.
V: As ons die bande met Nederlands wil heraanhaal, draai ons die geskiedenis om en dit kan nie.
A: Ons het apartheid ingevoer en later weer afgevoer - die geskiedenis omgedraai. Soms kan die geskiedenis wel omgedraai word. Die standpunt van genl. JBM Hertzog was ongeveer: Afrikaans is ons omganstaal en Nederlands ons kultuurtaal en ons hou daarby; voorts hoort die kleurling by ons want hy praat ons taal. Die standpunt van DF Malan was ongeveer: Afrikaans hoort ons omgangs- sowel as kultuurtaal te wees en die kleurling moet van die kieserslys af. Malan het gewen. Die geskiedenis het bewys dat JBM Hertzog gelyk had. Ons het wel intussen 'n stuk van dié geskiedenis omgedraai met die kleurling, maar die taalkwessie is nog op ys -en is volgens ons onwys.
V: As ons Afrikaanstaliges net ons taal bly praat sal hy bly voortbestaan en hoef ons maar niks verder te doen nie.
A: Die saak is komplekser dan dit. Die Duitstalige immigrante na die VSA het nog tienduisende Duitstaliges uit Europa na Amerika gelok met hierdie berustende woorde, waar hierdie Duitstaliges 'n veilige hawe kon vind in sogenaamde taaleilande, met 'n Duitstalige pers, -kerk, -skool en -verenigingslewe. Tog het Duits in Amerika gesneuwel. Duits sou wel bly lewe het indien hy binne hierdie gebiede konstitusionele erkenning verwerf het, soos wat Frans kon doen in Quebec.
V: As ons weer aansluiting moet gaan soek by Nederlands, dan sit ons weer met die taaltoestand van vroeg die eeu dat ons nie skryf soos ons praat nie.
A: Die sprekers van Kaapse Afrikaans skryf ook nie soos hulle praat nie en het daar geen probleem mee nie. Uit ondersoek blyk voorts dat meer as 80% van die Vlaminge ook nie skryf soos hulle praat nie. Die Vlaming gebruik 'n Vlaamse dialek as omgangstaal, maar Standaardnederlands as sy kultuurtaal - 'n harmonieuse taalverhouding wat ons in Suid-Afrika ook geken het tot en met ongeveer 1914. Die begrip 'moedertaal' hou vir die Vlaming die aktiewe beheersing in van twee taalvariëteite en niemand het daar las van nie.
V: Die eentalige gebiede is nie nodig nie, ons moet gewoon taaltrots by ons mense aanwakker.
Dit sal help, maar nie vir lank nie, want 'n golf van nasionalisme woed hom na 'n tyd uit. Omdat ons tussen anderstaliges woon, sal ons ook kultuuroordrag sien, waar die kultuurkloof tussen die verkillende groepe eventueel verdwyn en die betrokke groep hom as aparte groep met 'n aparte taal nie meer sal kan handhaaf nie en taaloordrag outomaties en onomkeerbaar volg.