TAALFUSIE
Agtergrond
Wanneer twee bedrywe fuseer, staan hulle sterker in die konkurrensiestryd. Die nuwe gefuseerde bedryf kan sy kliënte 'n beter diens lewer. Hy is sekerder van sy voortbestaan. Hy styg in glans. Hy word 'n gedugter opponent om mee rekening te hou. Beide bedrywe boet outonomie in, maar omdat hulle kennis, talent, kapitaal en kundigheid saamvoeg staan hulle sterker as voor die fusie.
Wanneer taal A en taal B 'n gedugte opponent het en taal A en taal B mekaar bowendien oorvleul, is dit verstandig om aan 'n fusie te gaan dink. As taal A maar 'n beperkte hoeveelheid boeke, tydskrifte, ensiklopedië, rekenaarprogrammatuur, video's, rekenaarspeletjies, tv-programme en musiek het, terwyl taal B daar 'n arsenaal vol van het, hou dit vir taal A ongekende voordele in om met taal B onderhandelinge aan te knoop. Afrikaans oorvleul met Nederlands op leksikale vlak vir 95% (volgens talle wetenskappers) en is dit verstandig om ons gedagtes in hierdie rigting te wend - die rigting van 'n hereniging van die twee kultuurvariëteite.
Voordele van sodanige fusie.
Al die kultuurprodukte in die deelnemende lande word gemeengoed. Dit hou in dat alle musiek, tydskrifte, rekenaarprogramme, boeke, televisieprogramme en noem maar op, wat in een land geproduseer word, gemeengoed word in al die deelnemende lande - soos wat Spaanstalige produksies gemeengoed is in alle Spaanstalige lande, ongeag die land van oorsprong. Dit beteken dus dat ons op taalgebied produkte kry wat ons tans in Afrikaans nie ken nie, of weinig van het.
Die sieletal van ons taal groei van 6,5 miljoen na 29 miljoen. Ons taal word 'n internasionale taal: met 'n groot taal- en kultuurskat van wêreldklasse.
Waar Afrikaans tans met 'n stigma gebrandmerk sit, word hy daarvan gereinig.
Ons taal is sekerder van sy voortbestaan, omdat hy groter is.
Die nadele van sodanige fusie.
Dit sal 'n aanvanklike inspanning verg, wat as dit volgens 'n deelglike plan gedoen word nie vervelend hoef te wees nie.
Wat staan ons te doen?
Plan A: Ons heraanvaar Nederlands as ons kultuurtaal. Aangesien die Nederlandse- en Afrikaanse taalskat mekaar vir meer as 90% oorvleul, behoort hierdie aanvaarding redelik te verloop - maar voorts ook omdat Afrikaans en Nederlands tussen 1910 en 1984 selfs grondwetlik as sinonieme erken was. Sodanige aanvaarding is bowendien geen ongekende skuif nie. Namibië het enkele jare gelede besluit om 'n geheel vreemde kultuurtaal in te voer vir al sy inwoners en is die plan met sukses uitgevoer. By ons behoort dit veel gladder te verloop, want Nederlands is geen vreemde kultuurtaal nie: hy bestaan vir 90% uit Afrikaans.
Of
Plan B: Ons stig 'n enkele taalliggaam, proporsioneel verteenwoordig deur Afrikaners, Vlaminge, Nederlanders en Surinamers. Hierdie liggaam moet dan omsien na die belange van ons taal, die onderlinge verstaanbaarheid van die variëteite tussen die deelnemende lande bevorder, en laastens moet werk aan 'n taalplan, gerig op die bereiking van 'n breë taaleenheid op termyn.
Of
Plan C: Ons stig die enkele taalliggaam wat na ons taalbelange moet omsien, maar ons aanvaar die Afrikaanse taalskat as subnorm van Nederlands. 'n Eenvormige spelling is wel belangrik. Aangesien die progressiewe spellers in Vlaandere en Nederland 'n spelvorm voorstaan wat tal van ooreenkomste toon met die Afrikaanse spelling behoort ons deur 'n proses van gee en neem tot 'n ooreenkoms te kom. Die Afrikaanse kultuurtaal word dan in die Nederlandse stal ondergebring.