EENTALIGE GEBIEDE
Agtergrond
Waar groot groepe immigrante hulle in 'n nuwe land gaan vestig, is die toekoms van hul taal gunstiger wanneer hierdie groep gekonsentreerd gaan woon. Hoe groter en digter die konsentrasie hoe gunstiger die toekoms van die taal, maar ook die kultuur van die betrokke groep. Studies oor Chinese immigrante na die VSA het aangedui dat Chinese wat tussen gevestigde Amerikaners gaan woon het, die snelste hul taal en kultuur verloor het, vergeleke met Chinese wat hulle in 'Chinatowns' in Amerika gaan vestig het.
Dit is voorts ook belangrik om daarop te let dat Frans in Kanada die snelste verdwyn het in gebiede waar Franstaliges verspreid tussen Engelstaliges gewoon het. In Amerika het Duits die langste stand bly hou waar Duitstaliges in sogenaamde taaleilande gegroepeer was.
Tot en met ongeveer die Tweede Wêreldoorlog het ons in Suid-Afrika nog 'n betreklike sterk taalgroepering gesien, wat tans opgedoek word. Dit hou gevolge vir ons taal in. Die taal met die hoogste prestige en die meeste mag verbrei homself ten koste van alle ander taalvariëteite - 'n proses wat hom tans voor ons oë helder afspeel.
Taalverskuiwing
Studies oor taalverskuiwing dui daarop dat waar daar 'n skerpe kultuurverskil bestaan tussen twee of meer groepe, taalverskuiwing nie plaasvind nie. Hoe kleiner die kultuurverskil hoe makliker kan daar van kultuurgroep verander word en verandering van die kultuurgroep hou dan ook verandering van taal in. Veral na die Tweede Wêreldoorlog het Afrikaners op groot skaal begin met die oorname van Engelse kultuurgoed, in soverre dat daar vandag van 'n eie kultuurbasis haas geen sprake meer is nie.
Wat staan ons te doen?
Die konsentrasie van Afrikaanstaliges in bepaalde gebiede op te voer is dus van wesentlike belang. Binne hierdie gebiede moet ons taal dan wel konstitusionele erkenning verwerf, anders loop hy die pad wat Duits en Frans en Nederlands in Amerika geloop het. Hier stuit ons egter voor 'n probleem. Hoe doen ons dit?
WAT STAAN U TE DOEN?
U het erns met die toekoms van ons taal. U wil ook sien dat ons dit behoed en koester. U wil meehelp aan 'n beweging waar ons vooruit dink op rasionele wyse en ook ver vooruitdink. U wil help, maar hoe? Deur na te dink oor alles wat u hier gelees het, uitbrei op bestaande voorstelle of met gloednuwe voorstelle kom.
Ons hoor graag van u en publiseer u brief in ons gedagteboek